H/v Southey- en Brunswickstraat, Adcockvale, Gqeberha, 6001

071 684 0496

 

GEREFORMEERDE KERK PORT ELIZABETH

Welkom en Dankie vir u besoek

Hartlik welkom by die tuisblad van die Gereformeerde Kerk Port Elizabeth.

Klik op die skakels om die inligting waarna u soek te ontsluit. Ons wil van diens wees. Neem daarom die vrymoedigheid om ons te skakel of stuur vir ons ‘n e-pos indien u meer inligting verlang.

 “As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon.”  

Psalm 25:12-13

Ons Predikant

Ds. Karel en Susan saam met Sion is sedert September 2022 die predikantspaar in die gemeente. Hulle geniet dit om die bediening voluit aan te pak, en sien graag eerder die glas half vol as half leeg. Waar daar `n uitdaging kan wees, is daar ook verskillende oplossings.
Dit maak vir heerlike saam-werk in die gemeente.
Hulle bediening saam het begin vir `n paar maande in Gereformeerde Kerk Empangeni aan die Natalse Noordkus. In September 2012 is hulle beroep na Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos. Hulle was hier in meerdere bediening en het kosbare ervaring opgedoen in bediening aan `n groot gemeente. Dit is in hierdie tyd wat Sion gebore is. In Maart 2017 is hulle beroep na Gereformeerde Kerk Vredenburg/Saldanha, waar hulle vir 5 jaar diensbaar was. Waar hulle in Potchefstroom aan `n groot gemeente verbonde was, het hulle hier weer die geleenthede en vreugdes van `n kleiner, plattelandse gemeente beleef. In die 5 jaar wat hulle hier was, het die gemeente vanaf net onder `n 100 lidmate gegroei tot bykans 150. In 2022 word hulle na ons gemeente toe beroep, en volg hulle die beroep op.
Beide Karel en Susan is boorlinge van Gauteng, en het aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus gestudeer. Susan het hier haar doktorsgraad in toerisme en bemarking verwerf, en het in die afgelope paar jaar baie ondervinding opgedoen in die administratiewe, seiljag en onderwys sektore. Sy is uiters kreatief en speel `n belangrike rol in die grafiese ontwerp en bemarking wat in die gemeente plaasvind.
Die Here het haar waarlik geseën met wonderlike gawes.
Dit is vir hulle `n voorreg om saam diensbaar te wees in Gereformeerde Kerk Port Elizabeth.

Wie is ons
Gereformeerde Kerk Port elizabeth

Ons sal graag van hierdie geleentheid gebruik wil maak om meer te vertel van die gemeente en die verskillende aktiwiteite wat plaasvind:

Weekliks:  Elke Sondagoggend word daar heerlik saam koffie en tee gedrink in die gemeentesentrum na die erediens. Die onderskeie wyke se susters verleen hulp wat dit betref.

Deurlopend: Ongeveer een maal per maand is daar ʼn Dopperjolyt funksie. Dit vind plaas op ʼn Vrydagoggend om 09:00 in die gemeentesentrum. Dit is ʼn geleentheid waar ons kan saam kuier en ʼn heerlike ontbyt geniet teen ʼn billike prys. Kyk gerus op die kalender vir die toepaslike datums.

Daar is ook een keer per maand ʼn Vlytige Vingers geleentheid. Dit vind plaas op ʼn Woensdagoggend om 10:00 in die gemeentesentrum. Die doel hiervan is dat enige lidmaat wat graag kreatief wil besig wees (brei, hekel, skilder, inkleur, ens.) bymekaar kan kom en saam kuier terwyl hulle die gawes geniet wat die Here vir hulle gegee het. Kyk gerus op die kalender vir die toepaslike datums.

Jaarlikse funksies: Elke jaar begin ons met ʼn toewydingsfunksie. Die doel van hierdie funksie om ons toe te rus vir ons diens aan die Here, en om ook net weer die bande te versterk na die Desember vakansie.

In Februarie elke jaar het ons gemeente ʼn Gholfdag. Dan sê die manne mekaar die stryd aan, en nooi gerus hulle vriende en kollegas om saam te kom speel. Hierdie vorm een van ons groot fondsinsamelings in die jaar.

In Maart kamp ons as gemeente saam – gewoonlik by Cannon Rocks. Dit is ʼn geleentheid waar ons bietjie ons Bybelkennis afstof en mekaar beter leer ken. Die Sondag word daar ook ʼn erediens op die kampterrein gehou.

Paasfees is ʼn vol naweek vir ons! Gewoonlik het ons die Donderdag, Vrydag en Sondag dienste, terwyl ons die kerkgebou oopsluit op die Saterdag vir enige persoon wat graag net rustig sal wil wees. Die predikant is dan ook in die gebou beskikbaar indien enige lidmaat met hom ʼn gesprek sou wou voer. Ons vier dan ook op die Vrydag saam die Nagmaal van ons Here.

Augustus-maand is Kermis-maand! Dan word die stalletjies uitgepak, produkte gebak en gebrou en heerlik saam gekuier met basaar-poeding en koffie. Kyk gerus op die kalender vir die datum.

Teen Oktober en November snel die jaar na ʼn einde. Dan pak ons vir oulaas ʼn funksie of twee aan. In Oktober vind ons Borg-ʼn-Bybel projek plaas waar ons soveel as moontlik geld probeer insamel om sodoende vir soveel as moontlik Graad 7 leerders op die platteland ʼn Bybel te skenk. Hierdie fondse word aan die Bybelgenootskap oorbetaal wat dit weer op ʼn sistematiese wyse op die Oos Kaapse platteland versprei.

In November vind ons dankbaarheidsfees plaas. Dit is ʼn geleentheid waar ons terug kyk op die jaar en waar ons die Here dank vir sy seën wat Hy oor ons uitgegiet het. Dit vind gewoonlik op ʼn Saterdagmiddag en aand plaas in die vorm van ʼn ete, terwyl ons die Sondag tydens die erediens hieroor nadink en saam die Nagmaal van ons Here vier.

Kerkraad: Die taak van die ouderlinge is om die lidmate geestelik toe te rus vir hulle dienswerk, en om geestelike leiding en toesig te verskaf. Die ouderlinge is daar om elke lidmaat te ondersteun en toe te rus in sy of haar pad van geloofsgroei.

Diakonie: Die diakonie funksioneer steeds met wyksdiakens, waar elke diaken ʼn betrokke wyk bedien en aanmoedig om hulle gawes aan te wend en om in onderlinge liefde met mekaar te leef. Op hierdie manier speel die diakonie ʼn kern rol in ons funksionering as gemeente, en behartig baie van die kommunikasie in die gemeente deur middel van WhatsApp groepe. Daarbenewens het die diakonie ʼn bestuur wat heelwat van die dag-tot-dag besluite neem, sowel as om die behoeftige lidmate by te staan en te ondersteun.

Een van die diakonie se besonderse bedienings is die Silwerklub. Een maal per kwartaal bied ʼn aantal diakens ʼn geleentheid vir ons lidmate bo 60 jaar om saam te kuier en die oggend saam te geniet. Kyk gerus op die gemeente se kalender vir die komende geleenthede.

Twee keer per jaar bied die diakonie ʼn gemeente funksie aan om dankie te sê vir elke lidmaat se betrokkenheid en bydraes, en om ʼn geleentheid vir lidmate te skep om saam te kuier. Hierdie geleentheid neem ʼn verskeidenheid van vorme aan: van net ʼn lekker braai, tot ʼn Oosterse en Meksikaanse aand.

Wil u u gesin by ons bedieninge betrokke kry?
KYK!

Susters

Die susters in ons gemeente is baie dinamies en maak goed gebruik van ʼn Wyksuster in elke wyk. Hierdie suster koördineer met die ander susters in die wyk om sekere funksies waar te neem met gemeentelike samekomste en ander aktiwiteite. Die bykans 20 wyke in ons gemeente is vir die funksionering van die susters in vier blokke verdeel. Elke blok het dan ʼn bloksuster, wat weer kommunikeer met die wyksusters. Die wyksusters gee dan weer die inligting deur aan die susters in haar betrokke wyk.

Om hierdie stelsel seepglad te laat verloop, is daar ook ʼn bestuur wat kwartaalliks vergader om die nodige reëlings te tref, korrespondensie reg te kry en te bepaal waar wat benodig word.

Die susters is onontbeerlik vir ons samekomste op Sondae. Deur middel van die teeskinkbeurte en kolwyntjie verkope kry elke wyk se susters die geleentheid om ʼn bydra te lewer en om diensbaar te wees. Daar is ook ʼn groep susters wat afwisselend verantwoordelikheid neem om op Sondae ʼn bos blomme of plantjie vir ʼn lidmaat met ʼn spesiale verjaarsdag (bo 70) te gee. Soms word dit aan lidmate wat deur beproewende tye gaan gegee.

Wanneer daar Nagmaal gevier word, is daar ook ʼn ete wat deur die susters aangebied word teen ʼn minimale koste. Die onderskeie blokke neem hiervoor verantwoordelikheid, byvoorbeeld Blok 1 (wyke 1 tot 5) vir kwartaal 1 se ete, Blok 2 (wyke 6 tot 10) vir kwartaal 2 se ete, ens. In hierdie opsig speel die bloksusters ʼn kosbare rol.

Van tyd-tot-tyd (soos met Moedersdag of Vadersdag) word daar ook van elke suster versoek om ʼn bordjie eetgoed saam te bring om na die erediens te nuttig. Dan word al die eetgoed op ʼn aantal tafels geplaas en ons geniet ʼn soet- of soutigheidjie saam met ʼn lekker beker koffie of tee. Een maal per jaar organiseer die susters ook ʼn gemeente funksie waar ons kan saam kuier en die onderlinge bande versterk.

Buiten vir hierdie funksies neem die susters ook leiding met die organisering van die Toewydingsfunksie en dankbaarheidsfees aan die begin en einde van die jaar. Terwyl die predikant die geestelike voedsel en toerusting verskaf, staan die susters gereed om ons liggame te versterk en om die Here te dank vir sy sorg en liefde.

Die susters staan mekaar egter nie net by in die goeie tye nie, maar ook in beproewende tye. Om hierdie rede word elke suster ook betrek om ʼn ete te verskaf wanneer ʼn lidmaat in haar betrokke wyk ʼn direkte familielid het wat afsterf. Die wyksuster neem hier die leiding om alles te koördineer.

Die susters kyk egter nie net na binne nie. Ons gemeente het al vir etlike jare ʼn kosbare band met die President Kruger Kinderhuis op Reddersburg. Vir hierdie kinderhuis loods die susters elke jaar twee projekte, naamlik die Skenk ons Skryfbehoeftes (SOS-projek) en die Badkamersakkie projekte. Meer inligting oor hierdie projekte en die formaat wat dit aanneem sal in Die Pluimsaad gegee word nader aan die tyd.

Om al hierdie funksies te befonds, maak die susters staat op ʼn vrywillige bydrae deur elke suster. Hierdie fonds word die Dorkasgelde genoem, en verwys na Dorkas – ʼn dissipel in die kerk in Joppe wat daarvoor bekend was dat sy altyd besig was om goed te doen en om armes te help (Handelinge 9:36). Daar is ook van tyd-tot-tyd verkope om die Susterskas aan te sterk.

Kontak gerus vir sr. Susan Steyn indien jy meer wil weet oor die funksionering van die susters.

Bybelstudie

Die volgende Bybelstudiegroepe vergader weekliks,buiten vakansietye,  en nooi enige lidmaat uit om by hulle aan te sluit.

Mans en vroue:
Dinsdagoggende: 09:30
In die Gemeentesentrum
Kontak: Ds. Karel Steyn sel. 072 476 8794

Jong Damesgroep:
Woensdagoggende: 10:30
In die Gemeentesentrum
Kontak: Marcelle Prinsloo sel: 072 637 0703

Manne-Bybelstudiegroep:
Donderdagoggende om 06:15
In die pastorie
Kontak: Ds. Karel Steyn sel: 072 476 8794

Donderdag groep:
Donderdagoggend: 10:00
In die Kerkgebou
Kontak: Annalie Cilliers sel: 083 650 6601

 

LEWENDIGE
UITSENDINGS

Diens

Tye

Sondag Oggend Erediens :   09:30

Kontak

ons

As jy ‘n gebedsversoek het, vul asseblief die vorm hieronder in. Na hersiening sal u gebedsversoek na ons leraars deurgestuur word. As jy ‘n lid van GKPE is, of ‘n gereelde bywoner, kan jy ook kies om jou versoek op ons kerklike gebedslys te plaas. Jy kan verseker wees dat baie gebede opgehef sal word vir jou behoefte.

kontak ons

3 + 8 =

Opkomende Gebeure

" width="600" height="450" frameborder="0" style="border:0">

Kontak ons

H/v Southey- en Brunswickstraat,

adcockvale,

Gqeberha,

6001

Ds. Karel Steyn – 072 476 8794

kantoor – 071 684 0496

Ds. Karel Steyn sel. 072 476 8794 – karelsteyn@gmail.com 

Admin Beampte – Martie Rautenbach – 071 684 0496 – Kantoor@gkpe.co.za 

Skriba – Martie Rautenbach – 083 561 4171 – Kantoor@gkpe.co.za 

Kassier – Anina Lighthelm – +264 81 698 1124

Koster – Piet Kotze – 083 298 0897

Orrelis – Anne-Marie Smuts – 083 991 5188 – Anicraft@telkomsa.net 

Diakonie – Martie Rautenbach – 083 561 4171 – martie1604@gmail.com

Media Kommissie – Henriette Arnold – 083 383 2636 – arnold.henriette@gmail.com  

Susters – Susan Steyn – 079 595 1502 – susansteyn85@gmail.com  

Volg  Ons

 

 

Designed & Hosted by Fire Ant Technology